South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
2006 >>
[2006] ZASCA 22
| Noteup
| LawCite
Sentraal-Suid Kooperasie Bpk. v Bessemer Staalkonstruksie (Edms) Bpk. (516/04) [2006] ZASCA 22; [2006] SCA 21 (RSA) (20 March 2006)
Download original files |
REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA
DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL
VAN SUID-AFRIKA
Nie rapporteerbaar nie
Saaknommer : 516 / 04
In die appèl van
SENTRAAL-SUID KOÖPERASIE BEPERK APPELLANT
en
BESSEMER STAALKONSTRUKSIE (EDMS)
BEPERK RESPONDENT
Regbank : MPATI AP, FARLAM, NUGENT, CONRADIE en HEHER ARR
Verhoordatum : 20 en 21 FEBRUARIE 2006
Datum van Uitspraak : 20 MARCH 2006
SAMEVATTING
Kontrakbreuk. Vervaardiger van canola silo’s aanspreeklik vir direkte skade weens gebreke in silo’s, maar nie vir gevolgskade aan bederf van canolasaad in silo’s te wyte nie.
_________
Neutral citation: This judgment may be referred to as Sentraal-Suid Koöperasie Bpk v Bessemer Staalkonstruksie (Edms) Bpk [2006] SCA 21 (RSA)
______________________________________________________________________________
U I T S P R A A K
______________________________________________________________________________
CONRADIE AR
[1] Die appellant (wat met die verlof van Goldstein R voor ons is) is ’n landboukoöperasie wat sake doen in Swellendam en omliggende dorpe. Voor die gebeure wat tot hierdie saak aanleiding gegee het, was ’n belangrike deel van sy bedrywighede die berging van koring en gars. Teen 1991 het boere in die appellant se bedieningsgebied canola begin aanplant. Die canolaplant word gekweek vir die herwinning van ’n olieryke tweesaadlobbige saadjie.
[2] Nadat die appellant canolaprodusente ’n tyd lank behulpsaam was met die lewering van canolasaad aan Cape Oil, ’n onderneming in Kaapstad wat olie uit die saad vervaardig, is daar in 1995 deur sy direksie besluit om ’n eie olievervaardigingsaanleg op die been te bring. Vir hierdie doel moes daar bykomstige bergingsfasiliteite gebou word.
[3] Die respondent is ’n vervaardiger en oprigter van staalstrukture wat staal silobuise insluit. Sy tender vir die oprigting van ’n silokompleks is deur die appellant aanvaar en die silokompleks is mettertyd opgerig. Die appellant vorder skadevergoeding wat op sy weergawe uit sekere gebreke in die silo’s ontstaan. Twee alternatiewe gedingsoorsake word gepleit. In die hoofeis vorder die appellant direkte en gevolgskade op grond van nie-nakoming van ’n uitdruklike waarborgbepaling in sy kontrak met die respondent. Die alternatiewe eis is een vir die verhaal van skadevergoeding, met inbegrip van gevolgskade, op grond van nie-nakoming van die regtens inbegrepe waarborg teen verborge gebreke in die koopgoed. Verreweg die grootste deel van die appellant se vordering, sowat R3 400 000, is vir inkomsteverlies as gevolg van die waardevermindering van die eerste, die 1995/1996 canola-oes, wat in die buise sleg geword het. ’n Deel daarvan kon slegs vir veevoer verkoop word, die res moes weggegooi word.
[4] Regstreekse skade vir herstelwerk en verwante uitgawes weens die beweerde gebreke, beloop volgens die appellant sowat R500 000. Aangesien die partye ooreengekom, en die hof a quo beveel het, dat die kwessie van aanspreeklikheid eerste bereg moet word, is die kwantum van die eise nie nou ter sake nie.
[5] Die silo’s is aangekoop enkel en alleen vir die berging van canolasaad. In Mei 1995 toe die kontrak vir die oprigting van die silo’s gesluit is, was canola ’n nuwe produk in Suid-Afrika. Op daardie stadium is dit onder andere reeds verbou in Australië en Kanada, trouens die naam ‘canola’ is ‘n akroniem vir Canada Oil Low Acidity, ’n ander naam vir raapsaad. Die appellant se getuienis by monde van Mnr Johann Pietersen, ’n destydse assistent-hoofbestuurder produkte en adviesdienste, was dat niemand by die koöperasie ten tye van die kontraksluiting veel van die berging daarvan geweet het nie.
[6] Mnr Christiaan Hoogendyk, die besturende direkteur van die respondent, het tydens ’n vergadering kort voor kontraksluiting aan die appellant se verteenwoordigers gesê dat hy nog nooit canola gesien het nie. Hulle het ’n sakkie canola laat haal waaruit hy kon opmerk dat dit klein, swart, vryvloeiende pitjies is. Die kontrak is dus gesluit deur twee partye wat nie een geweet het wat die bergingsvereistes vir canola, in die besonder in ’n plek soos Swellendam, is nie en boonop elk geweet het dat die ander nie weet nie.
[7] Swellendam se klimaat is warm en klam wat veroorsaak dat oormatige vog en hitte geredelik opbou in die silobuise waarin die canola geberg word. Vog en hitte binne-in die buise word veroorsaak deur die respirasie van die canolasaad, veral in die eerste ses weke ná inname. Die respirasie gee waterdamp af wat teen die wande of dak van die buis, of selfs teen koeler materiaal in die buis, kondenseer en die canola in die silo so vogtig maak dat dit nie meer vryvloeiend is nie. As die canolasade, deur die groei van swamme daarop, aan mekaar vaskleef, word koeke of korste gevorm wat by die lediging van die buis die vrye uitvloei van die canola belemmer en op dié wyse onnatuurlike stremming op die stuktuur plaas. Buitendien begin die sade nou broei in die vogtigheid en hittevorming word ‘n wesentlike probleem, veral omdat canola teen vyftig grade celsius reddeloos bederf.
[8] Die enigste manier om die vog- en verhittingsprobleem te voorkom, is om ’n belugter in elke silo te installeer, ’n waaier wat lug deur die silo-inhoud blaas om vogverspreiding in die buisinhoud te reguleer en die canolasaad koel te hou. ’n Onontbeerlike hulpmiddel hierby is moniteringskabels wat in die buise ingelaat word en met sensors die temperatuur op verskillende dieptes van die canola meet; dit gee ’n silo-opsigter die geleentheid om betyds remediërende stappe te neem as die temperatuur in enige deel van die buis begin opbou. Almal weet teen hierdie tyd dat hierdie toerusting in die eerste plek aangebring behoort te gewees het en dat canolasilo’s sonder deurlugters, in Swellendam altans, nie aan hulle doel beantwoord nie.
[9] Die appellant se standpunt is dat of die respondent nou geweet het wat die vereistes vir die berging van canola was of nie, hy uitdruklik sowèl die integriteit van die silobuise, die strukture, as die veilige bewaring van canola in die buise gewaarborg het. Volgens die appellant was die respondent derhalwe verplig om alles te doen wat vir die nakoming van sy waarborg noodsaaklik was; as deurlugters vir die veilige bewaring van die canola gebiedend was, moes die respondent hulle geinstalleer het. Die waarborg waarop die appellant steun, lui soos volg:
‘Hiermee bevestig ons dat BESSEMER STAALKONSTRUKSIE (EDMS) BPK alle strukture wat deur ons opgerig word, waarborg solank dit gebruik word vir die doeleindes waarvoor dit ontwerp is.
Graag wys ons daarop dat die silo’s en fondamente deur raadgewende ingenieurs naamlik Van Wyk en Louw ontwerp word en dat hulle die verantwoordelikheid vir die ontwerp teenoor ons dra.’
[10] Die hof a quo het die respondent gelyk gegee dat hy kragtens hierdie waarborg alleen vir die silostrukture aanspreeklikheid aanvaar het en nie vir die behoud van die silo-inhoud nie. As daar na die omringende omstandighede gekyk word, is ek geneig om saam te stem dat die waarborg ’n meer beperkte betekenis dra as wat die appellant daaraan wil gee. Op 1 Junie 1995, voor die silo’s voltooi is, en op ’n stadium toe die netelige kwessie van fondamente vir die silo’s pertinent ter sprake gekom het, is ’n direksiebesluit deur die appellant geneem om ‘’n termyn waarborg vir die buise vir geval insakking sou plaasvind’ te versoek.
[11] Op 5 Julie 1995, sewe weke ná kontraksluiting, word die waarborg na aanleiding van hierdie direksiebesluit gegee. Dit was, volgens Hoogendyk, bedoel om die appellant se bekommernis met betrekking tot die doeltreffendheid van die fondamente van die silo’s in die onstabiele grondtoestande op die terrein te besweer:
‘Soos ek sê die fondamente was op daardie stadium die grootste probleem toe hulle dit sien maar ek het net gerus gestel dat die silo’s en die fondamente doen ons nie met ons eie berekeninge nie, dit word deur raadgewende ingenieurs ontwerp soos dit behoort ontwerp te word.’
[12] Die respondent het op geen stadium betwis dat hy vir lekplekke in die silo’s verantwoordelik was of dat hy vir die swigting van die buise aanspreeklik sou wees as hulle nie misbruik word nie. Trouens, die partye het hierdie aanspreeklikheid van die respondent deurgaans as vanselfsprekend aanvaar. Hoogendyk het later van tyd toe daar probleme met die strukture ondervind is, by twee geleenthede bevestig dat die waarborg geld ten aansien van die gehalte van die silo’s wat hy verkoop het. Vir my kom dit voor of Hoogendyk met die herbevestiging van die waarborg nie meer gedoen het as om die appellant gerus te stel dat hierdie aanspreeklikheid nie in gedrang is nie.
[13] Ten einde die omvang en strekking van die waarborg vas te stel, is dit belangrik om te sien hoe die partye die waarborg vertolk het. Teen die einde van November 1995 het die appellant reeds besef dat daar probleme met die oorverhitting van ’n massa canola kan ontstaan. Omdat silogeriewe teen die begin van Oktober 1995 toe boere begin aflewer het nog nie gereed was nie, moes die appellant noodgedwonge canola tydelik in ’n pakhuis berg. Toe dele van hierdie hoop canola ontstellend warm begin word het, het die appellant besef dat gebergde canola deurlug sou moes word. Daar en dan is besluit om deurlugting in al die silobuise aan te bring om hierdie verhittingsprobleem die hoof te bied.
[14] Pietersen het onmiddellik, onder andere by die respondent, tenders aangevra vir die aanbring van deurlugters en die gepaardgaande moniteringstoerusting. Dié van die respondent is aanvaar. Vergesel van Pietersen, is Hoogendyk na Amerika om ondersoek te gaan instel na die mees geskikte belugtingstelsel. Mettertyd is die gekose deurlugting- en temperatuurmoniteringstelsels aangebring en is die respondent die ooreengekome prys daarvoor betaal.
[15] Sowat ’n jaar later, in Mei 1997, rig Hoogendyk ’n brief aan Mnr Swart, die appellant se besturende direkteur, waarin hy die volgende stelling maak:
‘Verder wil ek u graag daarop wys dat met die aanvang van die Canola kontrak toe ek die eerste keer met S.S.K. gesels het oor die behoeftes, is daar geantwoord op my navraag dat 'n tweede bakkieshyser met skoonmaker en deurlugting nie nodig is nie. U het my ook 'n sakkie Canola gegee en gesê dat dit soos water vloei en dat dit nie teen 'n normale rushoek sal staan met massa lediging en vulling nie. Die aanvanklike probleme in die Canolakompleks, toe SSK tog besluit het om 'n skoonmaker en deurlugtingstelsel in die silo’s te installeer het ek aanvaar dat almal nog maar 'n leerkurwe oor die hantering van Canola deurgaan.’
[16] Die brief is vir kommentaar deur Swart na Pietersen verwys wat ’n skriftelike verslag oor die inhoud daarvan aan hom voorgelê het. In sy verslag vermeld Pietersen die ‘onvoorsiene probleme met die opberg van canola’ en voeg daarby ‘[d]it is waar dat almal van ons ’n “leerkurwe” met die opberg van canola moet [moes?] deurgaan en ‘n skoonmaker en deurlugting is later nodig geag’.
[17] Opvallend afwesig is enige kommentaar wat daarop dui dat Pietersen die verskaffing van deurlugting as deel van die waarborg beskou of die versuim om dit te verskaf as kontrakbreuk gesien het. Trouens, uit wat hy in sy verslag sê is dit duidelik dat hy met Hoogendyk saamstem dat altwee van hulle eers later geleer het dat belugting vir die opberging van canola in Swellendam onontbeerlik is en dat hy Hoogendyk nie vir sy destydse gebrek aan kennis verkwalik nie. Dit is natuurlik korrek, soos die appellant betoog het, dat ‘n waarborg wat nie gestand gedoen kan word nie nietemin die gewer daarvan bind. Dit gaan hier egter nie oor die bindende krag van die waarborg nie, maar oor die uitleg daarvan: hoe die respondent dit bedoel en die appellant dit verstaan het. Die vertolking van die waarborg as sou dit beteken dat die respondent onderneem het om toe te sien dat die inhoud van die silo’s niks oorkom nie, is een wat oënskynlik nie in Mei 1997 by die partye opgekom het nie.
[18] Dieselfde oorwegings geld vir die respondent se aanspreeklikheid vir gevolgskade ingevolge die vervaardiger se versweë waarborg teen verborge gebreke. Hierdie is ’n bepaling wat van regsweë in ’n ooreenkoms inbegryp word as die partye nie uitdruklik of stilswyend anders ooreengekom het nie. Soos ek hierbo aangedui het, is dit uit die optrede van die partye, nadat die canola van die 1995/96-oes reeds ernstig agteruit gegaan het, duidelik dat hulle nie bedoel het dat die respondent vir die agteruitgang aanspreeklik sou wees nie.
[19] Dit is doenlik om nou te oorweeg of die respondent sy waarborg met betrekking tot die fisiese integriteit van die silobuise nagekom het. Die appellant was ten aansien van verskeie aspekte van hulle oprigting en funksionering, ontevrede met die silo’s. Sy saak is dat agt uit die veertien silo’s foutiewelik van eksentriese eerder as sentrale inlate voorsien is, dat al die silo’s gelek het en dat al die silo’s, behalwe een, op die een of ander tyd en in meerdere of mindere mate by normale gebruik meegegee het. Wat die meegee van die silo’s betref, betoog die respondent dat hulle sterk genoeg ontwerp en gebou is, maar dat wanbestuur deur die appellant hulle laat swig het. Met wanbestuur bedoel die respondent dat daar toestande in die buise ontwikkel het wat nie bevorderlik was vir die integriteit van die strukture nie, en dat die buise oorvul is en sodoende ’n groter tonnemaat moes akkommodeer as dit waarvoor hulle ontwerp is.
[20] Wat betref die skadelike toestande wat as gevolg van die agteruitgang van die canola in die buise ontwikkel het, stem die appellant en die respondent uiteindelik saam dat lekplekke om die ringbalke van die silo’s nie genoeg water sou binnegelaat het om noemenswaardig tot die bederf van die oes by te dra nie, en dat kondensasie binne-in die silo’s (die natuurlike gevolg van die respirasie van die canola) die canola natter gemaak het as wat dit moes wees en sodoende, in die warm toestande, koek- en korsvorming in die buise bevorder het. Dit is ook gemene saak dat hierdie korse (wat so groot kon word dat hulle ‘n brug van die een wand van die silo na die ander vorm) die uitvloei van canola belemmer en sodoende addisionele spanning op die buise geplaas het.
[21] Die respondent het sonder om teë te stribbel al die silo’s wat geswig het op sy eie koste herstel. Die koste van hierdie herstelwerk is dus nie ter sprake nie. Die koste wat wel ter sprake is, is dié wat deur die appellant aangegaan is om eksentriese inlate in sekere van die buise aan te pas en verdere verstywers op vlakke ses en sewe aan te bring om die struktuur van die silo’s te versterk.
[22] Buise vier tot sewe en elf tot veertien is van eksentriese inlate voorsien. Die vermeende probleem met die inlate was dat canola wat in die gemelde buise gestort is, nie regaf in die buise geval het nie, maar die buis skeef binnegevloei het sodat die canola, wat swaarder was, aan die verste wand gaan lê het, en die kaf en ander onsuiwerhede geneig was om nader aan die inlaat neer te sak. Dit sou dan, volgens die appellant, by lediging van die buis die uitvloei van die canola versteur en tot swigting van die buis gelei het. Die respondent se saak was dat die eksentriese inlate niks met die swigting of vervorming van die buise te doen gehad het nie. Ek dink nie dat bewys is dat die eksentriese stort van die canola tot die swigting van die buise by die lediging daarvan bygedra het nie. Die appellant het egter rede gehad om te glo dat dit die geval was en het bona fide herstelkoste aangegaan om hierdie vermeende defek reg te stel. Onder die omstandighede behoort die respondent nie sy vordering ten aansien hiervan ontneem te word nie.
[23] Die swigting van die buise was volgens die respondent daaraan te wyte dat hulle te vol gemaak is, dit wil sê tot meer as ontwerpkapasiteit gevul is. Ingevolge die kontrak tussen die partye het die respondent onderneem om aan die appellant te verskaf ‘14 off 9,069x24 Ring elevated silo’s as per OPTION 1A with a total capacity of 18952m3 or 12319 tonne based on 650kg/m3’.
[24] Elke silo (met ’n kapasiteit van 1 353,7 m3) moes dus kragtens die kontrak 880 ton canola kon berg. Op 28 Junie 1996 skryf die ontwerpingenieur, dr Hennie de Clercq, dat hy in sy berekeninge vir die ontwerp van die silo’s aangeneem het dat die canola (vermoedelik nadat die ligter kafinhoud daarvan in ag geneem is) 600 kg/m3 weeg.
[25] Een van die deskundiges wat oor die waarskynlike redes vir die swigting van, op een na, al die silo’s getuig het, was professor G E Blight. Volgens hom is die digtheid van canola 680 kg/m3. Saamgeperste kaf het ’n digheid van 395 kg/m3. Met ’n kafinhoud van 7% , is die gemiddelde digtheid van die silo-inhoud dus 644 kg/m3. Dit is feitlik dieselfde as die 650 kg/m3 wat die kontrak vermeld maar heelwat meer as dit waarvoor De Clercq toegelaat het. De Clercq het elke silo ontwerp om 812 ton canola te hou, 68 ton minder as die ooreengekome tonnemaat van 880 ton.
[26] Blight stem saam dat 863,7 ton ’n betroubare aanduiding is van hoeveel canola in ’n buis geberg word as die buisvolindikators waarmee die silo’s toegerus is, gebruik word. Die buisvolindikator is ’n elektroniese toestel wat in ’n buis afhang en by die volmaak daarvan ’n operateur vroegtydig waarsku dat die buis amper vol is. Die buisvolindikators is egter as gevolg van ’n gebrek aan bergplek deur die appellant buite werking gestel (opgebind) sodat die buise effens voller gemaak kon word. Hulle is nietemin nie tot bo volgemaak nie. By wyse van voorbeeld is buis vier tot by die helfte van die tweede ringband van bo gevul. Dit beteken, volgens Blight, dat die bopunt van die canola 536 mm hoër gelê het as wat die geval by gebruik van ’n buisvolindikator sou gewees het. Hierdie bykomstige canola weeg 24 ton, met die gevolg dat 887 ton geberg is in ’n silo wat volgens kontrak vir 880 ton ontwerp moes gewees het. Buis vier was dus sewe ton te swaar en ’n halwe meter te hoog gelaai. Die getuienis is dat buise voller gemaak is as wat die geval met werkende buisvolindikators sou wees, maar voller as wat hierbo beskryf is, is geen een gevul nie.
[27] Die buisvolindikators is maar net aangebring om te keer dat ‘n buis wat gevul word nie oorloop nie. Dit was nie bedoel om ‘n buis teen ineenstorting te beskerm nie. Dit was Pietersen se getuienis en aanvanklik ook dié van Hoogendyk en weerspieël myns insiens die waarskynlikheid. Aanvanklik het Hoogendyk volgehou dat die oorvolmaak van die silo’s ʼn element van die appellant se wanbestuur van die silokompleks was (omdat dit die hoofdoel van die indikator is om te sorg dat die ontwerpkapasiteit van die buis nie oorskry word nie) maar hy het in kruisverhoor toegegee dat die gewig van bykomstige canola nie ‘heeltemal die kwessie’ was nie. Dit was kennelik nie ‘heeltemal die kwessie’ nie. Die buise is slegs met agt ton bo hulle ontwerpkapasiteit gevul en niemand het aan die hand gedoen dat hulle met so min speling ontwerp is dat hierdie effense oorbelading hulle sou laat meegee nie.
[28] Dat daar by die ontwerp van die silo’s min speling gelaat is, word deur De Clercq toegegee. Op 28 Junie 1996 skryf hy na aanleiding van ’n terreinbesoek by die silokompleks, ’n volledige verslag oor swigtings in silo’s vier en sewe aan die respondent. Daarin maak hy onder andere die volgende stellings:
‘In ons berekeninge is aangeneem dat die canola 600kg/m3 weeg eerder as die waarde van tot 710kg/m3 wat deur prof Blight gevind is.
Die syfers hierbo genoem toon dat die ontwerp van die verstywers naby die been gesny is, soos mens van 'n kommersiële ontwerp kan verwag.
Met inagneming van alle faktore wat hierbo genoem is, kan gesê word dat swigting van die verstywers 'n kombinasie was van die volgende faktore:
Die kragte in die verstywers kon baie hoog gewees het al is canola 'n ligter materiaal as koring;
Die verstywers is, ter wille van ekonomie, ontwerp om nie onnodige spaarkapasiteit te hê nie;
Op plekke is die verstywers effe beskadig of verbuig gedurende konstruksie...
Onakkuraathede gedurende oprigting...kan veroorsaak dat die kragte meer op die buitenste flens van die verstywer as die binneste flens aangewend is.
Dit is onmoonlik om te sê in hoe 'n mate elk van hierdie faktore tot swigting bygedra het.’
Onder ‘AANBEVELINGS’ word dan voorgestel:
‘Ten einde die eienaar in 'n posisie te stel dat hy 'n stel betroubare silo’s het, het ons die hele ontwerp hersien. Ons gevolgtrekking was dat die verstywers op die vlak waar faling plaasgevind het (vyfde lengte van bo) versterk moet word, asook dié van die tiende lengte van bo, ten einde 'n mate van spaarkapasiteit te voorsien.’
[29] Ek is dit met die appellant eens dat hierdie buitegeregtelike erkennings deur De Clercq op grond van die belangegemeenskap tussen hulle (wat die appellant se vorderings betref) teen die respondent in ag geneem kan word.
[30] Die eerste swigtings en wel van buise vier, sewe en nege word waargeneem in die middel van Februarie 1996. Terselfdertyd neem Hoogenhout defleksies waar in al die silo’s behalwe nommer vyf. Hierdie waarnemings lei tot die herstel van die drie beskadigde silo’s en die gratis versterking deur die respondent van al die verstywers van al die silo’s by die vyfde en agste seksies. Die werk word tussen 1 April en 2 September 1996 gedoen.
[31] Van 11 November 1996 tot 17 Februarie 1997 word die 1996/1997-oes in buise een tot sewe, elf en dertien ingeneem. Slegs buise agt tot tien, twaalf en veertien is nog met canola van die 1995/1996-oes gevul.
[32] Op 21 Januarie 1997 toe agt honderd ton canola - van die nuwe oes - van buis vier na buis veertien oorgegooi word, swig buis vier (wat toe reeds met ’n deurlugter toegerus is) die tweede keer. Op daardie stadium is dit gevul met canola van die nuwe oes wat met betrekking tot kaf- en voginhoud aan al die vereistes voldoen wat deur die deskundiges as toereikend vir die veilige berging van canola beskou word (lae voginhoud van 7,34% en lae sifselinhoud van 3,91% by inname).
[33] Terselfdertyd word ʼn swigting waargeneem by silo drie wat ook van ’n deurlugter voorsien is, en waarvan die inhoud uit 845 ton canola met ’n voginhoud van 6,81% en sifsels van 3,87% by inname bestaan. Sowat ’n week later teken Hoogendyk defleksies in die verstywers van amper al die silo’s aan.
[34] In die tydperk drie tot sewe November 1997 word canola van die derde oes (1997/1998) in silo vier gestort. Weer eens is die vog- en kafinhoud by inname nie vatbaar vir kritiek nie (5,93% vog en 4,68% sifsels). Die silo is ook nie oorvol nie: hy hou 856 ton. Nieteenstaande swig hy weer toe sestig ton canola op 29 Desember 1997 na silo drie oorgegooi word. Die skade is so erg dat daar nie gewaag kan word om verder te onttrek nie en gedurende Mei 1998 word die buis met ’n suigapparaat geledig.
[35] Intussen kom daar op 18 November 1997 ʼn globale swigting van verstywers vyftien en sestien van silo elf voor, ʼn silo wat ook met skoon droë canola van die 1995/1996 seisoen gevul en van ‘n deurlugter voorsien is.
[36] Die versterking van die verstywers op vlakke vyf en agt van al die silo’s op aanbeveling van De Clercq het die swigtings- en verwringingsprobleme derhalwe nie opgelos nie. Selfs Blight wie se onpartydigheid nie altyd bo verdenking was nie, was verplig om toe te gee dat sy teorieë oor die swigtingsmeganismes (dat swigting uitsluitlik die gevolg van onnatuurlike belading as gevolg van kors- en brugvorming was) nie vir silo vier se latere twee swigtings (waar daar geen aanduiding van korsvorming was) geld nie.
[37] Swigtings het nie weer by enige van die silo’s voorgekom nadat die appellant op aanbeveling van sy raadgewers versterkte verstywers by vlakke vyf en ses van al die silo’s laat aanbring het nie. Sekere van die vroeëre swigtings was seker aan brugvorming van die canola te wyte: dat dit ’n faktor was wat die inherente ontoereikendheid van die silo’s na vore sou bring, is onbetwisbaar. Maar in die lig van die feit dat sommige van die silo’s ook geswig het nadat deurlugters aangebring is en toe canola teen optimum vogtigheid ingeneem en onsuiwerhede beperk is tot ’n vlak wat al die deskundiges as aanvaarbaar beskou, is dit redelik om af te lei dat daar van die begin af die gevaar bestaan het dat die silo’s van tyd tot tyd ook vanweë normale beladings op die strukture sou meegee omdat hulle ontwerp te kort geskiet het. Aangesien die buise identies ontwerp en gebou is, is hierdie gevolgtrekking noodlottig vir die respondent se ontkenning van aanspreeklikheid wat die herstelkoste van die silo’s betref.
[38] Wat die eerste (hoof)vordering betref, bevind ek dus dat die respondent homself nie kragtens sy uitdruklike waarborg of kragtens die waarborg wat van regsweë inbegryp word vir die behoud van die inhoud van die silo’s verantwoordelik gemaak het nie. Hy is dus nie aanspreeklik vir enige deel van die vordering vir verlies aan inkomste en addisionele koste wat R3 427 523.85 beloop nie. Hy het wel vir die integriteit van die strukture verantwoordelikheid geneem en is dus vir die herstelkoste van die gebrekkige silo’s aanspreeklik.
[39] Die aanspreeklikheid vir gedingskoste in die hof a quo word by ooreenkoms tussen die appellant en die respondent gereël. Hulle het ooreengekom dat die koste wat hulle met betrekking tot die eis vir skadevergoeding ten aansien van die herstel van silo vier, die versterking van die sesde en sewende seksies van die verstywers van al die silo’s, en die modifikasie van die inlate van silo’s vier tot sewe en elf tot veertien aangegaan het, sestig persent van hulle totale koste in die saak bedra en die suksesvolle party ook geregtig maak op die koste van sy ingenieursdeskundige. Die koste ten aansien van die appellant se vordering vir skadevergoeding vir die beskadiging van die 1995/1996-oes bedra, volgens die ooreenkoms, dertig persent. Die orige tien persent is nie ter sake nie. Dit was om voorsiening te maak vir ’n tweede eis vir beweerdelik foutief geinstalleerde hittemoniteringskabels wat laat vaar is.
[40] In die lig van ons bevinding moet dus aan die appellant sestig persent van sy koste in die hof a quo toegeken word. Wat die partye se koste in hierdie hof betref, is daar geen sodanige ooreenkoms nie. Die omvang van die oorkonde (wat aansienlik is) weerspieël natuurlik die verrigtinge in die hof a quo sodat die koste daarvan op die ooreengekome grondslag toegeken kan word. Verreweg die grootste deel van die appellant se betoog voor hierdie hof het egter gehandel met die respondent se aanspreeklikheid vir gevolgskade. Reg sal dus geskied indien die respondent een derde van die appellant se koste op appèl betaal, met uitsondering van die oorkonde waarvan die respondent sestig persent betaal.
[41] Die appèl teen die bevel van die hof benede word gehandhaaf en sy bevel word vervang met ʼn bevel dat die respondent teenoor die appellant aanspreeklik is vir betaling van -
1 die koste van die lediging en herstel van silo vier met inbegrip van die gelde van die raadgewende ingenieurs;
2 die koste van die modifikasie van die inlate van silo’s vier tot sewe en elf tot veertien;
3 die koste van die versterking van silo’s een tot veertien met inbegrip van die gelde van die raadgewende ingenieurs;
4 rente kragtens die Wet op die Voorgeskrewe Rentekoers 55 van 1975 van ’n datum wat bepaal moet word;
5 sestig persent van die appellant se gedingskoste in die hof benede met inbegrip van die gelde van die appellant se ingenieursdeskundige;
6 sestig persent van die koste van die oorkonde asook een derde van die appellant se orige koste vir die aanhoor van die appèl.
J H CONRADIE
APPÈLREGTER
SAMESTEMMEND:
MPATI AP
FARLAM AR
NUGENT AR
HEHER AR